Die olifant

 

Die olifant,  die olifant

Met pote so groot en plat

Die olifant, die olifant

Hy swaai, swaai so lomp oor die pad

Hy wil iemand nooi na die olifantbal

Want jy weet olifant is vir dans te mal

Die seekoei sê nee wat ek is mos verloof aan die buffel daar doer in die kloof

Die olifant, die olifant

Hy loop soek soek oor die veld

Die olifant, die olifant

Hy word o so dadelik ontsteld

Die juffrou renoster met ogies so rooi

Sê sy is mos gister al uitgenooi

Toe vra hy die bosvark om saam te gaan

Maar sy’s lankal gevra deur die blou bobbejaan

So diep in verdriet loop die olifant weg

Sy slurp hang so laag want hy voel tog so sleg

Meteens voor sy poot staan ‘n muisie so klein

Met snoetjie en pootjies en stertjie so fyn

Die olifant, die olifant

Het dadelik vir klein muis gevra

Die olifant, die olifant

Is bly want die muisie sê ja

Die aand kom die paartjie so aangestap

Hul dans baie mooi sonder tone te trap

So fraai het die tweetjies gewals oor die vloer

Tot die sterre gaan slaap en die sonnetjie loer